Grondwetlike Beskerming? Dit hang af van jou ras en kultuur
- Frans Minnaar

- May 1
- 21 min read
Die kern van ʼn Grondwetlike demokrasie is die beginsel dat ʼn (meestal geskrewe) Grondwet die mag van die staat beperk, en die regte van groepe, maar veral individue, teen magsmisbruik deur die staat beskerm. Die vraag wat in hierdie artikel gevra word, is of hierdie meganisme werklik die veiligheidsnet aan alle Suid-Afrikaners, op gelyke basis, bied wat gedurende die 1990-1994 oorgangsproses voorsien was?
Historiese Perspektief
Die oplossings wat in die 1990s vir die Suid-Afrikaanse konflik onderhandel was, het sterk gesteun op die Westerse interpretasie van Grondwetlike waarborge en demokratiese beginsels. Die voormalige Nasionale Party het baie gefokus op die beginsel van Grondwetlike oppergesag om hulle (blanke) ondersteuners te oorreed om die Grondwetlike skikking te aanvaar. Die vernaamste van hierdie waarborge was ʼn onafhanklike regbank wat die beginsels van ʼn geskrewe Grondwet moes interpreteer en toepas.
Van die begin af was die grootste swakpunt van hierdie waarborg die wyse waarop die regbank saamgestel sou word. Artikel 174 van die Grondwet bepaal dat Regters deur die President, na raadpleging met die Regterlike Dienskommissie, aangestel sal word. Dit maak die howe, en dan spesifiek die Grondwetlike Hof, vatbaar vir dominasie van bepaalde politieke sentimente en ideologieë. Die Grondwet bevat oor die algemeen breë riglyne en beginsels wat oop is vir subjektiewe interpretasie (‘the devil is in the detail’). Die interpretasie daarvan kan nie slegs nie, maar sal definitief beïnvloed word deur die persoonlike oortuigings van Regters.
Dieselfde situasie bestaan in die VSA en verskeie ander Westerse Grondwetlike demokrasieë, waar daar ʼn deurlopende stryd is tussen die liberaliste en konserwatiewe faksies om die howe te beheer deur die aanwys van Regters. Die groot verskil tussen daardie lande en Suid-Afrika is dat daar gereelde wisseling is tussen Presidente (en politieke dominant filosofieë) om deurlopende wisselwerking in die ideologiese samestelling van howe te verseker – en, met verloop van jare, ook balans in regsnorme wat gesonde billikheid verseker. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie. Die dinamika eiesoortig aan die 1994 oorgangsfase (en die gepaardgaande samestelling van nuwe instellings van die pas-gebore demokrasie), sowel as die politieke dominasie deur die ANC vir meer as twintig jaar (en voortdurend) het teweeggebring dat die samestelling van die Regbank, maar veral die Grondwetlike Hof, die ideologie en filosofie van hierdie party reflekteer. Meer as dit: Daar is geen vooruitsig dat 'n politieke dominante groepering aan die bewind sal kom wat sal wegstap van die huidige rigiede, ras-gebaseerde interpretasie van die bepalings van die Grondwet nie.
Die bepalings van Hoofstuk 8 van die Grondwet weerspieël ʼn tipiese konsensus (wat baie kenmerkend is van die Grondwet, en ʼn weerspieëling van die kompromieë wat tussen die voormalige strydende partye aangegaan is gedurende die onderhandelingsproses in die 1990s ten einde tot ʼn ooreenkoms te kon bereik). In breë trekke het die Grondwet aanvanklik voorsiening gemaak vir twee howe met min of meer gelyke bevoegdhede, naamlik die Hoogste Hof van Appel, en die Grondwetlike Hof. In kort het dit skeiding van bevoegdhede daarop neergekom dat die Hoogste Hof van Appèl die finale reg sou spreek oor alle regs-aangeleenthede, behalwe oor (i) grondwetlike aangeleenthede; en (ii) enige ander aangeleentheid, indien die Konstitusionele hof verlof om appel toestaan op die gronde dat die aangeleentheid ʼn debatteerbare regspunt van algemene openbare belang na vore bring wat deur daardie Hof oorweeg behoort te word. (aangehaal uit Artikel 167 van die Grondwet). Met ander woorde, die meganisme is geskep vir inmening in die regs – en maatskaplike struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat dit die mag en reg verleen om diskriminasie te legitimeer.
Later jare is hierdie vae skeidingslyn verwater en toe heeltemal ongedaan gemaak. Vandag is die Grondwetlike Hof die hoogste hof in die land vir alle regspraak.
Die implikasie is dat dit nie nodig is om die samestelling van die totale Regbank te verander deur bepaalde ideologiese voorkeure in hofuitsprake te bewerkstellig nie; slegs maar die samestelling van die Grondwetlike Hof se Regters. Ek is van mening dat hierdie stap geneem was met die spesifieke doel om 'n "enkel-punt" vir die bevordering van "transformasie" te skep. In Suid-Afrika beteken transformasie die benadeling van die Wit minderheid ten einde die eksklusiewe regerende groep met die mag in die Swart meerderheid se belange te dien.
Daar is ʼn verdere dimensie tot hierdie argument, en dit is die bepalings van die Grondwet. Die wesenlike element van liberalisme is die beskerming van die belange van die individue binne die konteks van gelykberegtiging. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bevat egter bepalings wat ideologies-subjektiewe regspraak wat diskriminerend van aard is nie slegs toelaat nie, maar dit selfs verplig.
Artikel 9 van die Grondwet bepaal dat elkeen gelyk is voor die reg en die reg het op gelyke beskerming en voordeel van die reg. Daar word as volg op hierdie bepaling uitgebrei: Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.
In die Suid-Afrikaanse Grondwet egter word diskriminasie nie slegs gemagtig nie, maar selfs verplig. Kwalifikasies op die beginsels van niediskriminerende gelyke behandeling sluit in die bepalings dat “Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, wetgewende en ander maatreëls getref kan word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.” Hierdie kwalifikasie loop soos ʼn goue draad deur die Grondwet. Oor die afgelope dertig jaar is by herhaling bewys dat hierdie bepaling van die Gro0ndwet gebruik is om teen Blanke Suid-Afrikaners te diskrimineer, dikwels op ʼn arbitrêre en ideologiese wyse. In kort: Die Suid-Afrikaanse Grondwet laat diskriminasie toe, en laat derhalwe die deur wyd oop vir ideologies-gelaaide subjektiewe uitsprake. Die toets om te bepaal wat ‘billike diskriminasie’ behels is altyd subjektief.
Hofuitsprake
In ʼn diverse, demokratiese, en (veral) Grondwetlike samelewing moet groeperinge aan beide kante van die ideologiese skeidslyn aanvaar dat hofuitsprake soms vir en soms teen hulle (en hulle opinies) sal gaan. Regters is veronderstel om gebalanseerde, sobere oorweging te skenk aan die feite voor hulle, en dan reg te spreek aan die hand van geldende regsnorme, hetsy of dit die bepalings van die Grondwet, ander wetgewing, die gewoontereg of presedentereg mag wees.
In Suid-Afrika is die Grondwet die finale arbiter, sou daar teenstrydighede in die bronne van regspraak wees. Hierdie feit word bevestig deur die bepalings van Artikel 2 van die Grondwet, wat bepaal dat die Grondwet die hoogste reg van die Republiek is en dat enige regsvoorskrif of optrede wat daarmee onbestaanbaar, is ongeldig is, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.
Waarskynlik een van die bekendste voorbeeld van die beginsel, was die uitspraak van die Grondwetlike Hof dat persone wat grond beset, nie sonder ʼn hofbevel afgesit mag word nie, en dat sondige bevel nie uitgevaardig mag word indien die besetters meer as ses maande op die grond gevestig is, en nie voorsien kan word van minstens gelykwaardige kwaliteit behuising elders nie. Die uitspraak was direk strydig met die beginsels van die gewoontereg, wat privaat-eienaarskap beklemtoon, maar in lyn met die bepalings van Artikel 26 van die Grondwet (alhoewel die uitspraak betwisbaar is, gegewe die bepalings van Artikel 27 van die Grondwet. [Sien, dit is die punt – hofuitsprake is selde algeheel objektief]).
Die vraag is of die Suid-Afrikaanse regspraak gelykberegting (en beskerming) aan alle burgers bied? Dit is ʼn kern-belangrike vraag, want die antwoord daarop bied ʼn antwoord op die veel groter vraag, naamlik of alle groepe in hierdie land kan staatmaak op beskerming deur die howe binne die konteks van algemeen-geldende Grondwetlike regte?
Ek dink nie so nie; ek is van mening dat die ideologiese oriëntasie van die Regters in die Grondwetlike Hof sodanige beïnvloed was deur hulle persoonlike interpretasies en belewinge van die land se verlede, en huidige hoofstroom narratief, dat bepaalde segmente van die samelewing doodeenvoudig nie meer aanvaarbare regsbeskerming teen magsmisbruik geniet nie, soos veronderstel gedurende die aanvaarding van die ooreenkomste bereik gedurende die proses van onderhandelde skikking in die 1990s.
Ter verdediging my standpunte gaan ek vlugtig verwys na die Renate Barnard-saak en die Grondwetlike Hof se uitspraak oor SARS se besluit om ʼn werknemer se ontslag oor die gebruik van die “k...”-woord te bevestig.
In die saak van Renate Barnard (South African Police Service v Solidarity obo Barnard [2014] ZACC 23) was die feite kortliks as volg: Luitenant Renate Barnard, ʼn werknemer van die Polisiediens, was bevordering geweier op grond van die SAP se Gelyke Indiensnemingsplan omdat sy nie uit die geledere van een van die groepe gekom het waarvoor die posisie geoormerk was nie. Hier is egter ʼn belangrike punt oor die saak: Renate Barnard was die kandidaat wat die hoogste punte gedurende die onderhoud gekry het, en toe sy nie aangestel was nie, was die pos vakant gelaat. (Vir praktiese doeleindes gaan ek voortaan na die saak verwys as die ‘Renate Barnard-saak.’).
In die saak van South African Revenue Service v Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration and Others het die Grondwetlike Hof die besluit van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om ʼn werknemers te ontslaan wat die “k…” word teenoor ondergeskiktes gebruik het bevestig, ten spyte daarvan dat ʼn interne tugpaneel in die Inkomstediens aanvanklik ʼn skriftelik waarskuwing, skorsing sonder betaling vir 10 dae en berading aanbeveel, en die Arbeidsappelhof die ontslag ongeldig verklaar het. (Vir praktiese doeleindes gaan ek voortaan na die saak verwys as die ‘Kruger-saak.’ [Kruger was die beampte wat ontslaan was]).
Ewewigtig en Gebalanseerd?
Die argument word dikwels gemaak dat blanke Suid-Afrikaners die uitsprake van die Grondwetlik Hof as legitiem moet aanvaar, want as hulle ‘gelukkig’ (of ‘in hulle skik’) is met die Nkandla-uitspraak, en dié dat Zuma weer vervolg moet word, dan moet hulle ook aanvaar wanneer uitsprake strydig is met dit wat hulle ‘goed laat voel.’
Die eenvoudige waarheid is natuurlik dat ‘goed voel’ of ‘teleurgestel voel’ oor hofuitsprake hoegenaamd geen rol behoort te speel by die evaluasie van die meriete daarvan nie; wat deurslaggewend behoort te wees, is wat reg of verkeerd is – en oorweë ewewigtigheid en balans.
Op die minste kan opgemerk word dat die Suid-Afrikaanse Grondwetlike Hof ʼn bepaalde ideologiese voorkeur openbaar in die interpretasie van die transformasie-klousules van die Grondwet.
Eerstens is dit merkbaar dat dit moeilik is om ʼn uitspraak van die Grondwetlike Hof te vind waar erkenning gegee word aan die individuele of groepregte van minderhede, en dan spesifiek Afrikaners, in ʼn konteks waar dit in konflik gekom het met dié van persone uit meerderheidsgroepe. Gegewe die motiverings verskaf vir bepaalde uitsprake, is dit spesifiek merkbaar in gevalle waar die Afrikaner-minderheid se belange ter sprake was.
My tweede argument is dat beide die gemelde uitsprake onder appel omgekeer was; met ander woorde, daar was vroeëre hofuitsprake, wat die feite en regsbeginsels in die sake oorweeg het, en bepaalde uitsprake opgelewer het wat deur die Grondwetlike Hof omgekeer was. Meer nog, dit is duidelik uit die tendens wat sedert 1994 na vore gekom het in uitsprake wat verwys na sake met sterk ideologiese, en dan spesifieke rasse, -ondertone, dat die Grondwetlike Hof fundamenteel geneig is om ʼn ‘transformasie-gedrewe’ (en bepaald subjektief geïnterpreteerde) ideologiese beredenering te volg.
Indien die feitlike van die saak in die Renate Barnard-geval was dat sy nie bevordering gekry het nie, omdat daar individue uit groepe geteiken deur die Polisie se Regstellende Aksie beleid was wat net so deeglik gekwalifiseerd was vir die pos as syself, sou daar geen vrae te vra gewees het oor die billikheid van die saak, in die lig van die voorskrifte van die Grondwet nie. Die feit was egter dat geen aanstelling gemaak was nie, omdat Barnard die enigste kandidaat was wat genoegsaam gekwalifiseer het, en dat die keuringspaneel haar as voorkeur- kandidaat aanbeveel het (met ander woorde, die vereiste proseduriële standaard was eerbiedig), maar dat sy bloot op grond van haar ras steeds nie aangestel was nie. Die Grondwetlike Hof bepaal dat die blote feit dat Barnard nie voldoen aan die vereiste van die Polisie se Gelyke Indiensnemingsplan nie (met ander woorde, die feit dat sy wit is), genoegsame rede is om eerder geen aanstelling te maak nie, eerder as om haar te bevorder.
Kom nou, in alle redelikheid en billikheid, op die beste kan die vereistes van die Polisie se Gelyke Indiensnemingsplan as ʼn kriteria (met swaar gewig) gebruik gewees het gedurende die onderhoudsproses. (Alhoewel dit op sigself al neerkom op blatante rassediskriminasie). Dit was ongetwyfeld ʼn oorweging gewees. Maar steeds het Barnard die hoogste punte behaal, en was aanbeveel om die pos te vul.
Met ander woorde: Ongeag wat ook-al die posisie rondom ʼn bepaalde pos of werksituasie mag wees, ek as blanke Suid-Afrikaner moet jy voorbaat weet dat die Grondwetlike Hof nie jou regte gaan omsien as “transformasie” op enige wyse ter sprake is nie. Om die waarheid te sê, selfs al sou laerhowe jou regte beskerm, dit sal sneuwel in die ideologies-gelaaide Grondwetlike Hof. Wanneer jy die uitspraak van die Grondwetlike Hof lees, is dit na my mening duidelik dat die finale toets wat toegepas was, neerkom op subjektiewe ideologiese beoordeling van die vraagstuk van gelyke indiensneming in Suid-Afrika; omdat jy Wit is, moet jy uit ʼn pos gehou word, totdat daar, eendag, ʼn min-of-meer kompeterende Swart kandidaat opgespoor kan word.
In die Kruger-saak het die Hof groot gewag gemaak van die historiese konnotasies verbonde aan die “k...”-woord. ʼn Eenvoudige waarheid is dat ʼn hof se plig is om reg te spreek, en nie om ʼn gemeenskap se moraliteit te probeer interpreteer nie. Waar word die grens getrek? Wat sal die Grondwetlike Hof se uitspraak wees die dag as hulle moet oordeel oor die uitsprake van swart Suid-Afrikaners wat geweld (en selfs massa-moord) teenoor en op blanke Suid-Afrikaners aanmoedig (waarvan daar vele voorbeelde was oor die afgelope paar maande)? Die vraag wat ek myself afvra is of die meerderheid Grondwetlike Hof-Regters van mening is dat rassisme slegs ʼn wit gesig kan hê?
Vergelyk byvoorbeeld die teenstrydighede in die uitsprake wat vir Vicky Momberg tot twee jaar effektiewe tronkstraf gelei het oor die gebruik van die "k..." woord in 'n hoogs spanningsvolle situasie; teenoor Julius Malema se aanhitsing van grootskaalse moord op Blankes (wel, iewers in die toekoms, skynbaar wanneer hy besluit die tyd het aangebreek), wat deur die Menseregtekommissie nie as rassehaat gesien word nie. Vrae moet gevra word oor die toepassing van ʼn subjektiewe standaard in ʼn moralistiese konteks wat sal uitkristaliseer in juridiese ewewigtigheid; iets wat noodsaaklik is vir die effektiewe funksionering van ʼn regstaat, maar na my mening tans te kort skiet in Suid-Afrika.
Die Tshwane Saak: Naamsverandering omdat die Afrikaner se geskiedenis besoedel is en uit die openbare ruimte verwyder moet word.
Die saak van die City of Tshwane Metropolitan Municipality v Afriforum and Another (157/15) [2016] ZACC 19; 2016 (9) BCLR 1133 (CC); 2016 (6) SA 279 (CC) (21 Julie 2016) het gegaan oor die veranderinge van straatname in Tshwane. Die Stad Tshwane het na die Grondwetlike Hof geappelleer nadat die Hooggeregshof bepaal het dat die Stad hulle besluit om straatname te verander moet hersien. (Vir praktiese doeleindes gaan ek voortaan na die saak verwys as die ‘Tshwane-saak.’).
Geen ander saak het waarskynlik die ideologiese oriëntasie van die Grondwetlike Hof beter weergegee as die motivering vir die uitspraak in die Tshwane-saak nie. Laat my onmiddellik die opmerking maak dat ek nie noodwendig dink die Grondwetlike Hof se uitspraak in hierdie saak verkeerd was nie, ongeag hoe min ek ook-al daarvan mag gehou het nie. Feit van die saak is dat ek nog altyd van mening was dat die Stadsraad van Tshwane in terme van die wetgewende raamwerk wat hulle bevoeghede reguleer, die reg het om straatname te verander, solank hulle die voorgeskrewe prosedure gevolg het. Regter Mogoeng wys hierdie punt duidelik uit in sy uitspraak wanneer hy bevind dat “Afriforum and its constituency do not have the right to have the old street names they treasure displayed in perpetuity. On the contrary, Council has the constitutional and statutory power to change them.”
Die punt van hierdie saak is dat die motivering vir die uitspraak nie wesenlik tegnies van aard was nie, maar ʼn moralistiese beoordeling van die Afrikaner se historiese kulturele regte, en die ideologiese oriëntasie van die Grondwetlike Hof baie duidelik uitgewys het. Oorweeg byvoorbeeld ʼn gedeelte van die uitspraak hieronder aangehaal:
“The sense of place and sense of belonging contended for by Afriforum is highly insensitive to the sense of belonging of other cultural or racial groups. It is divisive, somewhat selfish and does not seem to have much regard for the centuries‑old deprivation of 'a sense of place and a sense of belonging' that black people have had to endure. On this logic, victims of the deleterious effect of colonialism and apartheid are entitled to orders directing the authorities to remove names that seem to perpetuate the colonial and apartheid legacy on the basis that they induce irreparable harm. As for the mind-boggling proposition by Afriforum that harm and toxicity that apparently comes with looking only at the names linked to other racial groups, very little room, if any, seems to be left for the acceptance of black people as fellow human beings deserving of human dignity and equality, talk less of honouring them for their pursuit of justice and freedom in South Africa. It is very difficult to appreciate this kind of harm or apprehended environmental endangerment as deserving of legal protection.”
Ek gaan nie eens probeer om die korrektheid al dan nie van sommige van die argumente vervat in hierdie aanhaling te bevraagteken nie – en ek sou beslis kon, want, om maar een enkele ding te noem; komaan nou-straat – en plekname is tog werklik nie uitsluitlik beperk tot die gebiede wat Afriforum in hulle hofaansoek betrek het nie! Daar is vele plekke, en plekname, verwyderd van dié wat sentraal gestaan het tot AfriForum se hofaansoek wat name het wat geensins verwys na 'n 'Afrikaner kulturele' konteks nie. Met ander woorde, daar is honderde straatname in Tshwane, waarvan by verre die meerderheid geensins verwys na Afrikaner geskiedenis nie. Die betrokke straatname ter sprake was in gebiede waar Afrikaners in groot getalle woonagtig was.=, en slegs maar ʼn klein persentasie van die geheel in die stad.
Waaroor dit in wese gaan, is die Hof se ideologiese oriëntasie, en die implikasie daarvan vir bepaalde gemeenskappe in die land se reg op Grondwetlike beskerming. Oorweeg byvoorbeeld die motivering ter ondersteuning van die uitspraak deur Regter Jafta. Ingesluit by Regter Jafta se uitspraak was die volgende stellings:
“I am … troubled by the statement in the second judgment[1] which implies that a cultural tradition founded in history rooted in oppression may find recognition in the Constitution. And it cannot be gainsaid that the oppression we are talking about here was based on race and therefore was racist to the core… How can that unquestionably transformative Constitution be expected to recognise cultural traditions rooted in the racist past?”
“… the enjoyment of culture may not include an entitlement to racist and oppressive cultural traditions of the colonial and apartheid era.”
“…racist and oppressive cultural traditions have no place in our constitutional order, even though they may exist in history. In contrast, such traditions belong in the dust-bins of history where they ought to be buried.”
Met ander woorde die Grondwetlike Hof het die Afrikaner se kultuur-historiese erfenis gekriminaliseer, sonder om konteks, historiese feitlike argumente of toepaslike op die spesifieke van die saak voorhande te oorweeg; bloot op grond van die assosiasie met apartheid en kolonialisme word “such cultural traditions” as behorend tot die “dust-bins of history” verklaar. Voortaan sal geen hof toegelaat word om Grondwetlike beskerming daaraan te verleen nie. Een woord kom in gedagte: Voëlvry.
Wat is “racist and appressive cultural traiditions” in ʼn naam? Name wat aanstoot mag gee aan Swart Suid-Afrikaners, word bloot vervang met name wat aanstoot gee aan Afrikaners. Indien dit nog “objektiewe” name was, sou dit nog verstaanbaar gewees het, maar 90% van hierdie nuwe name is openlik en opsetlik konfronterend. Dit is totaal belaglik om vir een oomblik aan te voer dat dit “maatskaplike samehorigheid” bevorder. Selfs name soos “Johan Heyns” en “Helen Suzman” is vir my aanstootlik, want dit skep herinneringe aan simboliese historiese figure wat verantwoordelik was vir die posisie van algehele diskriminasie waaraan ek tans blootgestel word.
Die Hoogtepunt: “Kill te Boer” is nie haatspraak nie, maar die ou Suid-Afrikaanse vlag is wel
Na my persoonlike mening is een van die grofste voorbeelde van minagting van die menseregte van ʼn deel van die Suid-Afrikaanse bevolking sedert 1994 deur ʼn Hof gelewer, te vinde in die Grondwetlike Hof se uitspraak oor die lid “Kill the Boer, Kill the Farmer.”
OK, to be “fair” (as die woord “fair” ooit gebruik kan word in verwysing van een van die mees groteske uitsprake in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse reg, die aanvanklike uitspraak was gelewer deur die Gelykheidshof, met die Grondwetlike Hof wat geweier het om ʼn appel daaroor aan te hoor.
Nou lees nou die motivering van die regter van die Gelykheidshof vir sy uitspraak, en sê my dan wat oorgebly het van die reg van Boere en Afrikaners in hierdie land om nie openlik geteiken te word deur moordenaars nie?
“The Equality Court found that AfriForum’s interpretation was literal, and that there was no reason to reject Malema’s insistence that the lyrics should not be interpreted literally, but rather within the context of the struggle and his political message.
The Equality Court also held that reference to “Boers” was not an ethnic reference to South Africans who are Afrikaans-speaking or of Afrikaner descent. No explanation for this decision was given.
Additionally, although the Equality Court accepted evidence of Malema making shooting gestures, it expressed no view on it.”
Hou gerus in gedagte die presiese woorde van die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer”:
"The cowards are scared
shoot shoot
the cowards are scared
shoot shoot
shoot the Boer
shoot shoot
shoot the Boer
oh mother
shoot the Boer
shoot shoot
shoot the Boer
these dogs are raping
shoot shoot
these dogs are raping
shoot shoot
shoot the Boer
the cowards are scared
shoot shoot"
In die saak van AfriForum v Economic Freedom Fighters and Others (May 2024) was die hof se uitspraak was volg:
On the main issue on appeal, the SCA held that the reasonably well-informed person would appreciate that when Mr Malema sang Dubula ibhunu, he was not actually calling for farmers, or white South Africans of Afrikaans descent to be shot. Nor was he romanticising the violence exacted against them in farm attacks, as contended by AfriForum. The reasonably well informed person would understand that Mr Malema was using an historic struggle song, with the performance gestures that go with it, as a provocative means of advancing his party’s political agenda. Understood in its full context, it was a form of political speech. Even if Mr Malema’s performance of Dubula ibhunu may be regarded by some people to be shocking or even disturbing, the Constitution required a measure of tolerance. The Court held that what Mr Malema was doing was no more than exercising his right to freedom of expression, which was protected under s 16 of the Constitution. He was doing so in the course of participating in the activities of, and campaigning for, the political party of which he was leader, which rights are protected under s 19(1)(a) of the Constitution. The same reasoning applied in respect of Dr Ndlozi regarding Shisa lamabunu. In the result, the SCA appeal was dismissed.
Hoe op dees aarde; hoe op dees aarde, kan enigiemand tot die gevolgtrekking kom dat die "redelike man" Julius Malema se sing van die lied "Kill te Boer, Kill the Farmer", nie opruiende spraak tot rasse-haat is nie, veral gegewe die agressie en opruiming daar gewoonlik daarmee gepaardgaan?
Maar kom ons ondersoek die argument verder deur te verwys na ʼn geval waar die Grondwetlike Hof wel bepaal het haatspraak betrokke is, naamlik die vertoon van die ou landsvlag.
In die saak van Afriforum NPC v Nelson Mandela Foundation Trust, het die hof die sing van die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer” verklaar as nie haatspraak nie, maar dat die vertoon van de landsvlag dit wel is (Afriforum NPC v Nelson Mandela Foundation Trust and Others).
Watter een van die, die lied Kill the Boer, Kill the Farmer, hits dreigende geweld aan, verkondig haat wat op ras en etnisiteit gebasseer is?
So, watter een van die twee, die woorde van "Kill the Boer, Kill the Farmer" het minstens die potensiaal om geweld teen spesifieke rasse - en etniese groepe in die land aan te moedig? Dit is baie waarskynlik dat die sing van die lied “Kill the Boer” uitspraak teen Blanke Suid-Afrikaners, en spesifiek Bore, aanmoedig, en emosies in die verban opsweep. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die vertoon van die ou landsvlag geïnterpreteer kan word as aanmoediging van geweld teen enige etniese of rasse-groep.
The Court held that gratuitous displays of the old flag constitutes harassment under section 11 of the Equality Act as “displaying the Old Flag in the face of most South Africans knowing that they recoil from it can only constitute harassment.” [para. 192] It also held that displays of the old flag would constitute unfair discrimination as it “propounds racial superiority and promotes racial exclusivity.” [para. 195]
The SCA found that any gratuitous public display of the old flag satisfies the requirement of promoting and propagating hatred as envisaged in s 10(1) of the Equality Act. It is extremely degrading and dehumanising to those who suffered under apartheid. It exposes them the racial bigotry, detestation and vilification, and inspires hatred and extreme ill-will against them.
Columbia University, Gloabl Freedom of Expression
Met ander woorde, by implikasie, dit was genoegsaam om te verklaar dat die aanname (veronderstelling) dat die vertoon van die ou landsvlag ervarings van perseptuele geweld by sommige rasse - en entniese veroorsaak, 'n uitstpraak van "haatspraak" regverdig - maar sonder om dit te verklaar in bewysbare "gevalle" (iets wat, volgens De Vos, gemis was in die "Kill the Boer" - saak).
Maar was die uwe De Vos se primêre argument nie juis dat die toets bewysbare gevalle van misdaad veroorsaak deur opsweping is, en nie die veronderstelling van moontlike ervarings van bedreigings nie?
Die uitspraak in die landsvlag-saak:
Daarteenoor was die aanname wat deur die Appèlhof gemaak wat, dat ʼn lied wat, in soveel woorde geweld teenoor Suid-Afrika se Blanke boere aanmoedig; 'n groep wat inderdaad onder wreedaardige plaasaanvalle deurloop, se persepsies van werklike bedreiging nie genoegsaam is om dit haatspraak te maak nie?
Hier is die onderskeid:
Die vertoon van die ou landsvlag is verban omdat dit met apartheid geassosieer word, terwyl die lied "Kill the Boer, Kill the Farmer" om dieselfde rede nie as haatspraak beskou word nie (die gunsteling argument van "'n vryheidslied". Tog was die twee sake veronderstel om onder dieselfde objektiewe regsreëls deur onpartydige howe beoordeel te word. In praktyk was die toets is nie werklik Artikel 16 van die Grondwet nie, maar geskiedkundige perspektief en ideologiese beoordeling. Die vraag is dan: Is historiese beoordeling en ideolgie aanvaarbare "regsbeginsels" om onderskeid in uitsprake te regverdig - en bewyslas te kwalifiseer?
Indien wel, impliseer dit gebrekkige beskerming onder die beginsels van Grondwetlike gelykheid en die Oppergesag van die Wet; wat dan op grond van historiese en ideologie assosiasie gedefinieer word. Onder sulke omstandighede kan die vraag tereg gevra word of President Trump se aansprake van volksmoord in Suid-Afrika werklik so vergesog is?
Daarom is die enigste oorblywende alternatief om die wesenlike risiko veroorsaak deur die aanhitsing tot geweld deur dit onder die aandag van wêredleiers te bring.
Grondwetlike Beskerming?
In sy uitsprake het die Grondwetlike Hof nie slegs een spesifieke gemeenskap (die Afrikaners) se geskiedkundige goedere gedemonetiseer nie, maar meer nog, dit het dit enige noemenswaardige reg op Grondwetlike beskerming ontneem, want die uitspraak word nou deel van die presedentereg, nie waar nie? Met ander woorde, toekomstige regspraak sal die duidelik ideologiese argumente vervat in die Tshwane-uitspraak in ag moet neem wanneer soortgelyke vraagstukke oorweeg moet word.
Dit was ook opmerklik dat die gety in Hooggeregshof se uitsprake teen die behoud van Afrikaans as onderrigtaal gedraai het na die uitspraak in die Tshwane-saak; beide aan die Universiteit van die Vrystaat, sowel as die Universiteit van Pretoria. Ek kan tog nie help om die stoute skoene hier aan te trek, en ʼn aanhaling te maak uit die Gupta-beheerde ANN7 in die verband nie: “If we accept Mogoeng’s judgment, the court ruling which suspended the University of Free State (UFS)’s decision to drop Afrikaans as a medium of instruction must therefore come under scrutiny. Following a review of the university’s language policy, the university decided that students would no longer have the option of Afrikaans from 2017.
“Like Pretoria, UFS was a domain of Afrikaners and was exclusively attended by them. Things have changed now and the university belongs to all who live in the republic.”
Dit is tog sekerlik nie ʼn hof se plek om te besluit hoeveel reg op beskerming ʼn bepaalde kultuur het nie? Ook is dit nie die Hoofregter se plek om “AfriForum (te)... teach about transformation...” (die opskrif van die betrokke repliek op ANN7 se webwerf) nie. Die Hof se plig is om die reg te vertolk en dienooreenkomstig uitspraak te lewer. Die vraag behoort suiwer te wees of, in die lig van die feite van die betrokke saak, die bepaalde groep, of hulle belange, geregtig is op beskerming en remedie soos voorgeskryf in verskeie bronne van die reg (baie spesifiek die Grondwet). Net so is dit sekerlik nie die plek van ʼn hof om individue se regte te koppel aan hulle lidmaatskap van bepaalde kultuurgroepe nie – en dan ʼn moralistiese oordeel te vel oor die reg op beskerming van daardie kultuur nie! Is wat die Grondwet tans toelaat? Indien wel, is die onafwendbare gevolgtrekking dat die Afrikaner, as kollektiewe kultuurgroep, geen beskerming onder die Grondwet geniet nie.
Verder, indien die implikasies van die uitsprake van die Grondwetlike Hof ontleed word, kan geen ander gevolgtrekking gemaak word nie, anders as dat bepaalde minderheidsgemeenskappe in die land weens historiese onregte weinig beskerming geniet sover dit hulle arbeidsregte aangaan nie (en dan spesifiek die reg op objektiewe beoordeling wanneer dit by aanstellings of bevorderings kom); in elk geval, meer minder as histories benadeelde groepe.
Howe wêreldwyd interpreteer vraagstukke voor hulle met ʼn ideologiese bril. In die VSA is dit ʼn reuse politieke vraagstuk, wat selfs die verkiesing van Presidente beïnvloed. Maar werklik, daar moet balans bestaan; indien uitsprake van die land se hoogste hof bepaalde segmente van die bevolking se geskiedenis simplisties demonetiseer, het gebrek aan balans ingetree. Sodra sodanige uitsprake die reg op gelykheid gegrond op ʼn objektiewe regstandaard wat internasionale erkenning geniet (en balans in die interpretasies van die Bepalings van die Grondwet, ingesluit die bepalings verwysend na regstelling) negeer, begin dit die Grondwetlike beskerming van bepaalde gemeenskappe (en, by implikasie, individue) ondermyn, suiwer op grond van hulle lidmaatskap van, of verbintenis met ʼn bepaalde ras – of kultuurgroep.
Die hoogste hof in hierdie land het bepaal dat my kultuur “... in the dustbin of history...” hoort, en dit in die proses as onbeskermingswaardig verdoem; net soos dieselfde hof bepaal het daar eerder niemand in ʼn vakante pos aangestel moet word nie, eerder as iemand van my ras en bevolkingsgroep; net soos dieselfde Hof bepaal het dat ek my werk mag verloor as gevolg van ʼn indiskresie met rasse-ondertone.
Indien enigeen aan my wil verduidelik dat ek die konteks van die betrokke hofsake waarna ek verwys het, verkeerd verstaan het, sal ek dit verwelkom, want dit sal my die troos verskaf dat ek nog geregtig is op gelyke beregtiging in terme van die Grondwet. Tans kan ek slegs tot een onafwendbare gevolgtrekking kom: Indien die tendens in die uitsprake van die Grondwetlike Hof in ag geneem word, is ek nie seker of ek as blanke, Afrikaner man hoegenaamd nog aanspraak sal kan maak op Grondwetlike beskerming van my regte indien dit enigsins in ʼn konfronterende hoedanigheid teenoor diegene uit ander rasse – en kultuurgroepe in die land geplaas word nie (en – dit is belangrik – ongeag konteks).
Bronne Geraadpleeg
Jafta J 2016 Afrikaner culture belongs in the dustbin of history – Judge Jafta. Politicsweb. Ref: http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/concourt-afrikaner-culture-belongs-in-the-dustbin. Afgelaai 4 Des 2016
Constitutional Court of South Africa 2016 City of Tshwane Metropolitan Municipality v Afriforum and Another [2016] ZACC 19
Constitutional Court of South Africa 2014 South African Police Service v Solidarity obo Barnard [2014] ZACC 23
Dave Steward 2016 The ConCourt vs the Constitution. Politicsweb, 17 Augustus 2016. Afgelaai 4 Desember 2016
Froneman J and Cameron J 2016 Are they all now constitutional outcasts?' Politicsweb, July 2016. Ref: http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/concourt-are-they-all-now-constitutional-outcasts
Mogoeng CJ 2016 No rights for whites who use the k-word - ConCourt. Politicsweb, November 2016. Ref: http://www.politicsweb.co.za/documents/no-rights-for-whites-who-use-the-kword--concourt
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996
Pinky Khoabane 2016 Mogoeng teaches AfriForum about transformation. ANN7, July 2016. http://www.ann7.com/mogoeng-teaches-afriforum-about-transformation/
[1] Verwysend na die minderheidsuitsprake in die saak van Regters Cameron en Froneman
-- Prentjiebron: Wikimedia Commons, via Google Images --



Comments